N.G KERK STILBAAI
Jeug- en Gesinsbediening
Die Jeug- en Gesinsbediening fokus op die toerusting en versorging van ons kinders, jongmense en hul ouers.
Dit word hoofsaaklik gedoen deur die Dissipelskapskool op Sondae.
By die Dissipelskapskool lê ons klem op verhoudingsgerigte onderrig en ons maak ook van ervaringsleertegnieke gebruik. Bybelkennis is vir ons baie belangrik, aangesien ons ervaar dat daar ‘n groot leemte in hierdie verband onder ons kinders is.
Dissipelskapskool is vanaf voorskool tot graad 8. Wanneer kinders in Graad 9 kom, moet hulle skriftelik aansoek doen om deel van die Voorbereidingsklas te word. Die doel daarmee is om die “worsmasjien” effek te verminder, sodat kinders regtig moet gaan dink of hulle wil deel wees van die gemeente. As hulle wel deel raak van die groep, moet hulle vir ten minste nog 2 jaar onderrig ontvang. Die klem hier is op lewende lidmaat voorbereiding. Hierna, as hulle gereed voel, kan hulle weer ‘n brief skryf, waarin hulle verduidelik waarom hulle graag ‘n lidmaat wil wees. Daar word dan ‘n kamp gehou en ‘n onderhoud met elke kind gevoer om seker te maak dat die kind geloofsekerheid het. Daarna word hulle voorgestel.
Die Dissipelskapskoolleiers kom op ‘n weeklikse basis bymekaar om die lesmateriaal te bespreek en saam te bid en te besin.
Kampe en uitreike is ‘n integrale deel van ons bediening. Ons kamp ten minste een maal per jaar. Daar word ook jaarliks met die hoërskoolleerlinge op ‘n uitreik gegaan na Kaapstad, waar hulle saam met Tableview gemeente en Straatwerk, uitreikwerk doen na haweloses. Hulle doen ook plaaslik uitreikwerk in Melkhoutfontein. Dit is belangrik vir die geestelike groei van die kinders om ook te leer om die Evangelie met ander te deel.
Die werkende jongmense kom weekliks bymekaar vir ‘n Bybelstudiegeleentheid saam met ds Vian Louw. Hulle het ook verskeie projekte waaraan hulle werk. Een so ‘n projek is die verskaffing van warm koffie en warm sjokolade aan werkers wat in gedurende die Wintermaande vroeg oggend werk toe kom. Die span deel die warm drinkgoed uit by die bushalte voor Steyn’s en gebruik sommer terselfdertyd die geleentheid om die Evangelie met hulle te deel.