Studiestukke
Vrydag, 17 Februarie 2017 06:08

Red Bull Christene

Written by Ds Vian Louw

Vir dié van u wat nie weet nie, Red Bull is ‘n sport drankie met baie suiker en kafeïene, wat jou liggaam lekker opkikker, maar ná so half uur, val jou bloedsuiker só dat jy eintlik slegter af is. Red Bull Christene (Energiedrankie-Christene) is iets waarteen ons moet waak.

 Wandel in die Woord saam: Jakobus 2:14-26 (Lees twee keer deur en deel dan met die groep wat in die gedeelte, vir jou uitstaan.)

 Wat is geloof? Hoe kan jy geloof beskryf vir 'n nie-gelowige?

  • Wat is die verskil tussen jou geloof en dié van die duiwel?

 Wandel in die Woord saam: Johannes 13:1-20

  • Wat staan vir jou uit in die gedeelte?
  • Hoe het Jesus Sy geloof in God gewys?

 Die afgelope twee weke het ek baie dinge beleef saam met julle.  Ek het die voorreg gehad om te sien hoe liefdevol ons gemeente is. Van 'n brand waar mense hulle harte oopmaak tot 'n sms wanneer mens in die hospitaal is, ja, ons gemeente verstaan iets van hierdie twee verse hierbo.  (Dit word ook mooi vasgevat in ons visie).

 Waarteen ons moet waak is Red-Bull Siekte; Geloof sonder dade is nie geloof nie. Christenskap is om te dien. Om Christen te wees is dade uit liefde 24/7. Ons moet waak om soos Red Bull te wees.  Christene wat vinnig goeie dosisse energie het (of in óns geval een vinnige gedeelte geloof wat aktief is) en dan terug te val in onaktiewe Christenskap.

 Hoe gaan ons dit reg kry?

 à Ingesteldheid:  Dat God se Gees ons lei

 Daar is daagliks geleenthede, wat dalk vir ons nie so groot lyk soos die brande nie, maar vir iemand anders so voel, waar ons mense kan dien en mense kan help.  Ons gaan egter vir God moet vra om ons te help om dit raak te sien. Ons gaan dan die Here moet vertrou en wel oorgaan in dade om te dien  wanneer dit oor ons pad kom.

 Opsomming:

Geloof sonder dade is nie geloof nie, Christene moet mekaar en ander (wil) dien 24 uur 7 dae 'n week.

 Hoe gaan ons dit as wyk regkry?

 Deel ons wyk nog die kerk se visie?  (Indien u ondeker is oor ons visie, lees voor in die almanak)