INLEIDEND

Alle gelowiges bid…dit is selfs so dat ongelowiges bid in ‘n oomblik van nood…tot God wat hulle nie ken nie. Die vraag is egter wat gebed is en of daar goeie en swak gebede is…kan ons verkeerd bid?

WAT IS GEBED?

Gebed tot ons God is gesprekvoer met die Skepper wat jou nie net gemaak het nie maar ook op pad is met jou en aan die praat is oor SY verhouding met JOU!

Die mees basiese beginsel van gebed is;

    “om stil te wees HERE, dat ek U kan hoor”

In hierdie basiese beginsel is baie opgesluit om te kan waarneem hoe God se antwoorde en reaksie op die mens se versugtinge bewustelik word. Die gebedsbediening is die geleentheid waar die realiteit van geloof in Jahwe, God, Seun en Gees, oorgaan in ‘n verhouding en waar mense ook hierdie realiteit onderling met mekaar deel.

Die nuwe wereld van die internet gee aan die jong geslag ‘n baie duidelike beeld van ‘n “virtual world”. ‘n Werlikheid sonder fisiese ‘n teenwoordigheid…Gebed is egter nie net ‘n “virtual world” waar kreatiwiteit en tegnologie ontmoet nie, dis inderdaad die ontmoeting tussen die Skepper en die skepsel, waar die resultaat van hierdie verhouding tot anderkant die grense van die rede strek. Meer nog, gebed is die lewenslyn tussen tyd en tydloosheid…iets wat die rede nie kan verduidelik of kan verstaan nie. Gebed is die hande en voete van my liefde vir God. Om meer oor gebed te leer kan ons begin om na die ONSE VADER te kyk in Matt 6:5-18. Boeke oor gebed wat gerus gelees kan word is onder andere Bruce Wilkinson se “Jabes se Gebed”, Jorg Zink se “Pad na die Gebed” en in Hester Heese se “Ek gooi my luike oop” skryf sy op so ‘n styl dat meeste van haar gedigte amper gebid kan word. Swaarder werke oor gebed sluit Thomas Merton se “Comtemplative Prayer” in en dan kan ‘n leser altyd Henri Nouwen se “Intimacy” of anders “Reaching Out” lees wat baie sal help om ‘n gelowige ingestel te kry om weg van die self af op God te begin fokus. Van die beste stukkies soeke na praat met God word gevind in Philip Yancey se boek “Reaching for the Invisible God” Hierdie skrywers het almal al die ontdekkingspad met God geloop…volg in hul voetspore as jy dalk rondkyk na lydrade vir ‘n kreatiewe gebedslewe!
 
GEBEDSBEDIENING IN STILBAAI

Die gebedsbediening in Stilbaai het ‘n verskeidenheid opdragte. Daar is ‘n plek waar gebedsversoeke aangemeld kan word, die gebedsketting kan ‘n spesifieke opdrag kry om voor te bid, voorbidding kan gedoen word vir ‘n persoon of saak of jy kan sommer net op ‘n Woensdag oggend om 10H00 of om 18H30, fisies of in jou gees saam met die gebedspan intree vir ‘n saak.

DIE GEBEDSKETTING

Die gebedsketting op Stilbaai word gekoordineer deur Martin Louw. Hy kan gebel word by 028 754 1716 of 083 284 2812 of anders kontak hom gerus per e-pos by Hierdie e-posadres word van Spambotte beskerm. Jy moet JavaScript ontsper om dit te lees. Die gebedsketting bestaan uit ‘n lys van 72 mense wat saam of individueel bid vir ‘n saak. Gebruik ons dus, ons wil graag jou behoefte aan die Here opdra, Sy Gees inspan en die lewe opwindend maak!